NWK gaan spiere in Ysterman bult – en nooi jou saam

NWK, Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy, gaan vanjaar ’n opwindende avontuur aanpak wat die deelnemers behoorlik gaan laat sweet.

NWK-personeellede gaan op 16 November op Mosselbaai aan die gewilde en strawwe Ysterman-70.3-driekampbyeenkoms deelneem.

Alf White, NWK se finansiële hoof, sê dié uitdaging is ten bate van Agri Securitas om geld vir plaasveiligheid in te samel. Dit sal NWK se personeel boonop aanmoedig om ’n gesonde leefstyl te volg.

Die Ysterman-kompetisie lok jaarliks duisende atlete van oor die wêreld heen om op verskeie bestemmings 1,9 km in die see te swem, 90 km fiets te ry en 21,1 km te hardloop. Twee NWK-bestuurslede sal alleen aan dié uitputtende kompetisie deelneem, terwyl nege ander as deel van aflosspanne gaan meeding.

“Die uitdaging word nou na die res van NWK se personeel uitgebrei, en ons hoop om ook die sake- sowel as landbougemeenskappe betrokke te kry,” sê White.

“Die doel is om uiteindelik R1 miljoen vir Agri Securitas in te samel, want saam kan ons ’n nuttige verskil in die landbousektor maak.”

NWK borg R100 000 van sy deelnemers se inskrywingsgeld. Daar sal van elke personeellid verwag word om geld in te samel op ’n aanlyn platform, soos Givengain.com, waar borge hul voorbereiding vir die Ysterman-kompetisie kan dophou en skenkings kan maak.

NWK se uitnodiging.Verskaf

NWK nooi dus sy sakevennote uit om betrokke te raak. “Ondernemings kan op eie stroom geld insamel en oorweeg om ’n bydrae te maak tot die inskrywingsgeld, toerusting en/of ander behoeftes wat mag opduik.”

White sê met NWK se R100 000-borgskap kan hulle tesame met ander ondernemings se bydraes poog om die doelwit van R1 miljoen makliker te bereik.

“Ondernemings word uitgenooi om óf borgskappe te gee sodat ons deelnemers kan inskryf, óf om hul eie deelnemers te finansier.”

Johan Bezuidenhout, groepsbestuurder, sê die mikpunt vir individuele inskrywings is R25 000, en R36 000 vir aflosspanne of R12 000 per persoon.

“Die individue sal ’n moeiliker uitdaging hê, want om aan die Ysterman-kompetisie deel te neem is dan moeiliker as om dit in ’n span te doen. Dit is ook ’n groter finansiële uitdaging. Ons mikpunt is 20 spanne, wat elk R36 000 insamel, en 10 individue, wat R250 000 insamel. Dit is R970 000. Ons is oortuig daarvan dat ons die mikpunt van R1 miljoen kan haal.”

Kontak White by 018 633 1169 of stuur ’n e-pos aan awhite@nwk.co.za of kontak Nicolene Kotze by 018 633 1166 of by nicolene@nwk.co.za om betrokke te raak.

Previous
Previous

LUISTER: NWK ysters sweet vir goeie doel – en jy kan help om verskil te maak

Next
Next

LUISTER: Hoe kan landelike gemeenskappe beter veiligheid verseker?